Anderland is geleë op die historiese plaas Oudedorp.
Oudedorp is deur Andries Hendrik Potgieter uitgesoek vir die aanleg van die “eerste” Potchefstroom in 1839.
In 1841 verlaat die boere die gebied en word die “nuwe” Potchefstroom gevestig (een uur te perd stroomaf).
Oudedorp word aan Gert J Kruger in 1842 verkoop.
Op 3 Maart 1848 verkoop Kruger die gedeelte oos van die Mooirivier (bekend as Koloniesplaas) aan Pieter Lodewyk Bezuidenhout.
Bezuidenhout rig sy woonhuis op langs die standhoudende watervoor.
Die reuse bloekom, akker en wilgerbome is waarskynlik in sy tyd aangeplant.
In 1974 word die Bezuidenhout opstal plat gestoot en die huidige woonhuis op Anderland opgerig.
Die klein geboutjie aan die bo-kant van die huidige woonhuis is die enigste oorblyfsel uit die Bezuidenhout era.
In 2003 is die tabakstoor omskep tot die Kapel.
Die res van die fasiliteite is opgerig op ou beeskrale.
April 1877 word die Zuid-Afrikaanse Republiek deur Engeland geannekseer.
Pieter Bezuidenhout was in ‘n dispuut gewikkel oor ‘n uitstaande belasting van £13,5s.
Landdros Andries Goetz beveel dat Bezuidenhout se bokkiekar gekonfiskeer en opgeveil moes word om belasting verpligting te vereffen.
Met die hulp van Generaal Piet Cronje en 100 gewapende boere word die bokwa teruggeneem op 11 Novemeber 1880.
Die Engelse probeer die opstand onderdruk maar tervergeefs.
In Desember 1880 trek meer as 7000 Boere saam te Paardekraal Krugersdorp, om ‘n proklamasie vir onafhanklikheid van die ZAR uit te vaardig.
Op 15 Desember 1880 laat Generaal Piet Cronje en 500 gewapende boere die uitgevaardigde proklamasie druk in die enigste drukpers in Transvaal naamlik die van die Potchefstroomer.
Dit lei dan tot die eerste gewapende konfrontasie op 16 Desember 1880, die begin van die eerste Vryheidsoorlog.
Dit was waarskynlik juis die wa-insident van Bezuidenhout wat die vuurhoutjie in die kruitvat was wat gelei het tot die oorlog.
Bezuidenhout sterf in 1905 toe hy volgens oorlewering in 'n ongeluk met sy perdekar sy nek gebreek het.
|